Veith Walter
“Liewe
Gerhard
Baie dankie vir jou briefie. Ek moet sê 'n openbare debat is nou nie juis
die forum waarin ek hierdie dinge sou wou bespreek nie. Ellen White sê self dat
mense wat haar nie aanvaar nie haar gerus maar tersyde moet lê. As 'n mens die
verskillende evangelies lees, dan kom 'n mens agter dat hulle almal ietwat
verskil. Die verhale word anders vertel, die volgorde (bv. die versoekinge van
Jesus) is nie altyd dieselfde nie want dit is ooggetuie verslae. Selfs die
gebeurtenisse rondom die opstanding is nie eenvormig by al die evangelies
nie. So ons kan sê dat elke een is basies sinopties. As 'n mens almal
bymekaar voeg, kry 'n mens bv sewe verhore van Jesus, terwyl die verskillende
evangelies net enkeles noem. Dieselfde geld nou vir Ellen White (bv die Markus
teks). As sy dinge sê wat die evangelies nie weerspreek nie of aanval
sonder om afbreek te doen daaraan, dan is dit aanvaarbaar, veral as 'n mens
haar as 'n profeet sien. Natuurlik moet dit wat sy sê dan in harmonie wees met dit
wat reeds in die Bybel staan. Ek het ook al daardie vervelige relase op die
internet gelees oor al haar kwansuise verkeerde voorspellings en doen-en-late,
maar ek beveel vir u 'n boek aan (ek waarsku u net dit is baie dik),
"Answers to objections", waar elkeen van hierdie punte sistematies
vergruis word. As 'n mens die moeite wil doen, kan 'n mens by die waarheid
uitkom, maar waarheid is nooit debateerbaar nie. In 'n debat wen die een met
die vloeiende mond, of die een wat die hardste kan skree, al is dit nie
noodwendig die waarheid wat hy skree nie. So my advies vir u is, as Ellen
White u pla, pluk haar uit want niemand word gedwing om te glo wat hulle nie
wil glo nie.
Met Christelike groete
Walter Veith”
GE:
Geagte Prof Walter Veith,
Ek is baie dankbaar u antwoord my. Nou kan ek my
wanhopige pogings oor baie jare om met u kontak te maak, agterlos – pogings
waarin ek bewustelik opgetree het soos ek nie regtig wou nie, net om reaksie te
probeer kry. Vergewe asseblief daarom
goed wat ek gesê het waarmee ek sekerlik voor die Here gesondig het.
Ek wil nie oor Mev. White praat nie; ek het my
voorgeneem ek het klaar daarmee – oor Mev. White waarmee ek my slegs sedert
2007 vir rukke besig gehou het om die enkele rede dat Mev. White se standpunte
mense bevooroordeeld maak teen ‘n herwaardering van hulle eie sieninge omtrent
die Skrifte. Die fout – vir my – lê dus eerder by dié wat Mev White aanhang, as
by haar. Daarom, klaar daarmee.
Baie graag antwoord ek, ú dan, betreffende u eie
standpunte soos per hierdie skrywe van u aan my.
Laat my eers toe om te sê hoekom hierdie kwessie
vir my belangrik is. Dit is vir my belangrik omdat
1) Dit die
Woord van God aangaan; Die Skrifte is die waarheid; dit bevat geen
weersprekings of inkonsekwenthede nie;
ek tree op om hierdie geloofspunt by my, te verdedig.
2) Dit die
Sabbatdag van God aangaan. Hierdie
spesifieke Skrifture vorm die hele grondslag van die Nuwe-Testamentiese
Aanbiddingsdag.
3) Dit
daarom die mikpunt van Skrifverdraaiing gemaak word.
U sal sien dat ek by nie een ‘punt’, dit teen die
Sewende-dag-Adventiste het nie; dit is slegs waar, en omdat, die
Sewende-dag-Adventisme in dieselfde juk as die Skrifvertalers trek, dat hulle
ingetrek word in die beslegting van sake, en meer pertinent verantwoording van
standpunt behoort te gee juis omrede hulle die Sewende Dag Sabbat bely om te
glo.
Want dis waaroor alles uiteindelik vir my gaan (en
ek glo, dit tot sy ontsteltenis ook vir God moet gaan): Dat die Skrifte deur
‘vertaling’, aangepas word om Sondag tot aanbiddinsdag van God oor en in die
plek van die Sewende Dag Sabbat van die HERE God te verhef.
U sal dus onmiddellik ons gemeenskaplike belang
hierin besef. Nou kan u kies om die
Sondagiete te help; of om vir die saak van die ware Christelike Aanbiddingsdag,
Die Sabbat en Dag van die Here Jesus, op te staan. Doen u laasgenoemde – moet ek waarsku – sal u
(om mee te begin) gedwing wees om in weerwil van ‘Mev. White’ en u hele Kerk,
te begin dink.
Laat my toe om u verklaring nader te bespreek.
Walter Veith:
“.... As 'n
mens die verskillende evangelies lees, dan kom 'n mens agter dat hulle almal
ietwat verskil. Die verhale word anders vertel, die volgorde (bv. die
versoekinge van Jesus) is nie altyd dieselfde nie want dit is ooggetuie
verslae. Selfs die gebeurtenisse rondom die opstanding is nie eenvormig by al
die evangelies nie.”
GE:
Ek wil my nie uitspreek oor enige ander Skrifplase
as dié betreffende “die gebeurtenisse
rondom die opstanding” nie. Dit is
hier waar die enigste ernstige kwelvrae geskep word. Let op, nie ‘onstaan’ asof
spontaan vanuit die beweerde problematiese aard van die Skrifture self nie; dis
alles ‘gemaak’— méns gemaak; deur middel van ‘vertaling’ geskep, sogenaamde
kwelvrae. Laat ons ons bepaal tot “die gebeurtenisse rondom die opstanding”,
dan.
Al klaar hier, reg in die verklaring, “die gebeurtenisse rondom die opstanding”,
lê miljoene vooropgestelde voorveronderstelling verskuil oor wat nou eintlik “die gebeurtenisse rondom die opstanding”
was of sou wees!
Ja, “.... As
'n mens die verskillende evangelies lees, dan kom 'n mens agter dat hulle almal
ietwat verskil.” Dit gaan ek vir
geen oomblik ontken nie. Inteendeel, dit is presies wat ek wil uitwys, wil
benadruk, en wil uitpluis! Nie net dat die
Evangelies “ietwat verskil” nie, maar
dat hulle totaal verskil .... MAAR, NOOIT, mekaar weerspreek nie.
“.... Die
verhale word anders vertel....”
Inderdaad. Maar baie belangriker: dit is nie altyd
dieselfde verhale wat telkens anders vertel word nie— dit is verskillende
VERHALE wat amper honderd persent dieselfde, telkens vertel word. Eintlik, is dit EEN verhaal, die
Evangelie-verhaal, wat in elke Evangelie ‘vertel’ word. Elke
Evangelie-samesteller of –skrywer, het sy eie verhaal of verhale as deel van
‘Die Groter Verhaal’, gekies om neer te skrywe. Dit is waarin die verskille
bestaan, maar terselfdertyd ook die volmaakte ooreenstemming onder al vier die
Evangelies. Volmaakte ooreenstemming en
eenstemmigheid is waaroor alles gaan .... vir so ver dit my aangaan wat tot op
hede vir niemand anders van belang blyk te gewees het nie. Maar help my, my Here en my God, ek sal nie
opgee nie ....
“.... die
volgorde .... is nie altyd dieselfde nie ....”
Juis! Want
elke Evangelie kies sy eie onderdeel van die groter storie. Dis nie te sê die Evangelies is chaoties
nie. Nee, daar is duidelike logiese en
kronologiese aanduidings en historiese gegewe wat orde, volgorde en ELKE DING
EN GEBEURTENIS HEILS-HISTORIES BEPAAL HET. Sodat, soos Andrew Murray van die
laaste week in Jesus se lewe geskrywe het, mens die verhaal soos uit ‘n
dagboek, kan lees. Die Ou-Testamentiese Profetiese Wetmatigheid strek dwarsdeur
die Vier Evangelies gelyk en gelyktydig. ‘Inspirasie’ moet nie een vir een
gesien word nie, maar moet herken en erken word in, en soos wat, die Vier
Evangelies tot die Een Evangelie van Christus Jesus saamval en daarin as Geheel
kulmineer. Die Samestelling en Behoud van die Verhaal is net so deur God Geïnspireer
en Bewaar as die Verhaal as sodanig. Met
ander woorde, Inspirasie behels – sluit in en beteken – Bestiering. (Dis hoe ek
daaroor voel, ‘fool’ of nie. Ek is baie graag dwaas van God vir God.)
In ‘Die Laaste Week’, die “drie dae en drie
nagte”-“drie dae” en “die derde dag”, kom dit daarop neer dat die orde en volgorde in sy “gottgebenen und
darum eschatologischgültigen Ganzheit”,
geld! (Lohmeyer se woorde maar nie
toepassing nie.) Daar word GEEN ruimte
vir ‘foute’ gelaat nie. Die Evangelies is Die Woord van God; dis nie Markus of
Johannes of Matteus of Lukas se storie of stories nie.
Dit is hier en in hierdie volkome betroubare Woord
van God waar ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges van die Nuwe-Testamentiese
Sabbat en -Sabbatsgronde verneem— primêr en finaal. Geagte Dr. Walter Veith, as u nog steeds die
Dag van die Here uit die argiewe moet gaan krap – die Kliptafels is lankal weg.
Maar God se Woord gaan nooit verlore
nie. “Onderhouding van die Sabbat geld steeds vir die Volk van God”: om een rede: “Omdat Jesus, aan hulle rus verskaf hét”. En hoe het Hy dit gedoen?: “Deurdat Hy Self
in sy rus ingegaan het.” En hoe het Hy dit gedoen?: Deur uit die dode op te
gestaan het, “Sabbats” – Mt28:1. Dis
nie meer, “Omdat Ek julle uit Egipteland uitgelei het nie”; dit is nou
‘Omdat Ek op die Sabbat al die werke van God klaargemaak het en deur opstanding
uit die dode aan julle ewige rus verskaf het: daarom moet julle die Sabbatdag
bly onthou en dit heilig.’
Dit is waarop die Wetmatigheid en Godgegewe
eschatologies-geldende Volheid van die Heils-historiese ordelikheid van die
Evangelieverhaal se “gebeurtenisse rondom
die opstanding” in al vier Evanglies
volkome ooreenstemmend en aanvullend, op neerkom. Alhoewel dus gladnie – soos u dit tereg, stel
– “eenvormig” nie, wil die Evangelies soos een en volkome eenstemmig, “dat
julle kan weet wat .... die uitnemende grootheid van sy Krag is .... na die
werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom
uit die dode opgewek het”, want die voltooiing van al die werke van God
(Hb4:3-4) bestaan in “die onderwerping van alle dinge onder sy voete .... Die
Volheid van Hom wat alles in almal vervul”.
Uit die verskeidenheid van die Evangelie-verhale
kom na vore hoe God – waar en wanneer Hy Sy Rus ingaan / ingegaan het – God is
in Christus Jesus waar en wanneer Hy Hom uit die dode opwek en verhef om te sit
aan die regterhand van God in hemelse sfere van verheerliking en heerlikheid.
“En God het op die Sewende Dag GERUS”. Hier
uit newels van die verlede en sondes tree die Sewende Dag Sabbat helder te
voorskyn in die hede van die Nuwe Skepping van God en sy Geregtigheid.
Walter Veith:
“.... nie
altyd dieselfde nie want dit is ooggetuie verslae ....”
GE:
Wat vertel hoe ‘tradisioneel’ u dink, geagte
Walter. “Dit ...” Bedoel u die Evangelies en die verhale van die
Evangelies? Hulle is nie, “ooggetuie verslae” nie. Die Evangelies
en die Evangelie-verhale is die werk of die produk – onder die Here se wakende
en bewarende Hand (van ‘Inspirasie’) – van mense wat nooit gesien het wat hulle
vertel, gebeur het nie. Hierdie mense weer, het te wete gekom van wat gebeur
het by ander mense en deur ander mense voor hulle. Hulle het by die apostels
gehoor; Matteus van die apostels was self die skrywer van wat hyself gehoor en
ook by ander, gelees het. En die apostels het by die vroue gehoor. En die vroue
het by die engel gehoor. En selfs die engel was nie ‘n ooggetuie nie, want hy
het op die klip gaan sit en nie in die graf ingekyk nie want dit sou
oneerbiedig van hom gewees het.
Uiteindelik moet dit die Here Self wees wat die opstanding van Jesus aan
die engel geopenbaar het, en hom gestuur het om dit “aan die vroue (te gaan)
verduidelik het”, Mt28:5a. Daar was
NOOIT enige, ‘ooggetuies’, nie!
Daar was NOOIT enige, ‘ooggetuies’ van Jesus se
opstanding nie, “sodat die Skrifte
vervul sou word” en “al sou Iemand uit die dode opstaan, hulle nie
sou glo nie as hulle Moses en die profete nie glo nie!” “Die geloof is uit die GEHOOR.” Die Geloof kan nie uit aanskouing met
vleeslike oog van die dade van God wees nie.
Die Geloof is uit die gehoor van die gelese Woord van God oor die groot
en klein dade van God.
Nou (terwyl ons sê dat ons in die Inspirasie van
die Skrifte glo), sal God dit toelaat dat sy Woord met verwarring gelees sal
word? Die goddelose begeer dit; God
begeer “DAT JULLE SAL WEET”. Ek kan nie
die kleinste ongerymdheid, teenstrydigheid, komplikasie – noem dit wat u wil –
in die Evangelie-verhaal sien bestaan nie.
As dit lyk of so-iets voorkom, weet vir seker, die moeilikheid lê by die
mens êrens, soos, by wanbegrip, of, by wanvertaling! Dis oor laasgenoemde wat ek ontsteld raak.
(Een of ander ‘kerkvader’ het gesê mens kan die
onkundige nog inlig. Maar mens kannie die beterweter reghelp nie. Die
onkundiges lees die Bybel; die beterweters skryf die Bybel aan ons voor om te
lees soos hulle wil hê hy gelees sal word.)
Walter Veith:
“So ons kan
sê dat elke een is basies sinopties. As 'n mens almal bymekaar voeg, kry 'n
mens bv sewe verhore van Jesus, terwyl die verskillende evangelies net enkeles
noem. Dieselfde geld nou vir Ellen White (bv die Markus teks). As sy
dinge sê wat die evangelies nie weerspreek nie of aanval sonder om afbreek te
doen daaraan, dan is dit aanvaarbaar, veral as 'n mens haar as 'n profeet sien.”
GE:
Ja, ek het gesê ek het klaar oor Mev White gepraat,
eintlik, geskrywe. Lees dus maar weer waarom Mev. White regtig nooit na Mk16:9
verwys nie : Omdat Mk16:9 lees dat Jesus eerste aan Maria Magdalene verskyn
het, maar Mev. White verklaar het dat Hy eerste aan die Romeinse wag verskyn
het. En dat die Evangelies verklaar dat die vroue – by name Maria Magdalena –
die eerste getuies van die opstanding was; maar Mev. White, dat “die dapper
wagte” die Blye Boodskap eerste uitgedra het.
En so kan ek aangaan en aangaan soos wat ek in boek 6/3 aangegaan het
maar nou klaar mee aangegaan het. Nie weer nie; nooit weer nie, asseblief, want
dit was té negatiewe ervaring en té hartseer tyd in my lewe. Laat my liewer praat van die Sewende-dag
Adventiste; hulle lewe immers nog en kan terugkap, en, glo ek, wil immers nog
die Here behaag met hulle Sabbatsonderhouding. Hoekom hulle nogtans so
hand-om-die-lyf met die Roomse en ander kerke loop wat die vertalings
aanbetref, gaan my begrip te bowe.
Weet dat ek tot dusver relatief MIN tyd en aandag
aan die Sewende-dag Adventiste gegee het, en op die keper beskou, gladnie. Want
as mens my argumente lees, moet hy kan sien dat dit vir my téén die verminking
van die Skrifte en die verminkers van die Skrifte self, gaan. Van dag een af –
meer as veertig jaar gelede al – het ek die Hervormings-Kerke aangevat; nie
eers die Roomses nie, want dit was die Protestante wat ons die Bybel in ons eie
taal gegee het --- en onlangs met vertalings nek-om begin draai het.
Walter Veith:
“Natuurlik
moet dit wat sy sê dan in harmonie wees met dit wat reeds in die Bybel staan.
Ek het ook al daardie vervelige relase op die internet gelees oor al haar
kwansuise verkeerde voorspellings en doen-en-late, maar ek beveel vir u 'n boek
aan (ek waarsku u net dit is baie dik), "Answers to objections", waar
elkeen van hierdie punte sistematies vergruis word.”
GE:
Ek kén DF Nichol. Ek kan egter nie onthou of hy
ooit Mev. White se verklaring dat ‘n engel in
die Vader se afwesigheid, Jesus uit
die dood en graf uit opgeroep het, onderskrywe het nie; gladnie. U moet
asseblief aan my uitwys as ek verkeerd is. Bladsynommer sal doen; ek het die
boek.
Interessant terloops in Nichol, is sy verslaggewing
oor die hantering van Green se vertaling van Mt28:1 in die Review and Herald
ondermeer .... ‘n saak wat ek met Bacchiocchi opgevat het, en in my besit ‘n
brief van hom terug ontvang, het, waarin hy toegee die Sewende-dag Adventiste
het destyds nie behoorlike aandag aan die vertaling van ‘opse’ in Mt28:1 gegee
nie. Bacchiocchi self het ek selde so sien kleitrap as met sy verduideliking
van hierdie saak. Ek het hom vir dekades agtervolg met my vrae aan hom in dié
verband gestel. (Sien http://www.biblestudents.co.za ‘Questions I put to Prof. Samuele Bacchiocchi
....’ Kan ú dalk, vir my asseblief die verduideliking gee?)
Ja ....
Walter Veith:
“As 'n mens
die moeite wil doen, kan 'n mens by die waarheid uitkom, maar waarheid is nooit
debateerbaar nie. In 'n debat wen die een met die vloeiende mond, of die een
wat die hardste kan skree, al is dit nie noodwendig die waarheid wat hy skree
nie. So my advies vir u is, as Ellen White u pla, pluk haar uit want
niemand word gedwing om te glo wat hulle nie wil glo nie.”
GE:
Ek sal gedwee vat wat u my kant toe mik; ek het
soos hierbo, reeds erken --- en om verskoning probeer vra.
Wil ek net graag ook sê, As 'n mens die waarheid
liefhet, sal 'n mens daarby uitkom omdat God gee aan sy geliefde – in sy slaap
so te sê – rykdomme van kennis en insig met net so bietjie moeite miskien,
ja. ‘Waarheid’ smeek om gedabateer te
word omdat dit vir sigself uit die Skrif getuig; waarheid is bang vir niks. Opregte
Vraag en Antwoord na die waarheid-‘debat’, word altyd gewen met die Lewende Skrif-Woord
van God – nie deur die een met die vloeiendste mond of wat die hardste kan
skree nie. Die grootstes bibber en beef voor die waarheid en sorg van myle ver
af dat hulle uit sy pad bly. Waarheid
verloor nooit nie; g’n argument nie; nie een debat nie. Julle geloof, sê Johannes, oorwin die wêreld, al
skree hy nie, en al kry hy met die kruste ongeloof, weerspannigheid teen, en
weerspreking van die Skrif-Woord van God, te doen.