Waar Staan, “Op die Sabbat”, Geskrywe?

 

Mense vra my, waar staan dit in die Skrif dat Jesus “Op die Sabbat” opgestaan het?  Hulle sê, Hy het mos nie op die Sabbat opgestaan nie, maar op die Eerste Dag van die week. Ek behoort dit mos te weet!

 

Ons Afrikaanse mense veral – goeie, eerlike, opregte, toegewyde mense, hoogs intelligente en geleerde mense – lees gewoonweg ondubbelsinniglik: “Lank ná die Sabbat toe dit begin lig word, teen die Eerste Dag van die week” – wat tog Sondag was – toe was Christus opgewek!

 

Nou hoe kan ek hulle verwyt dat hulle maar net glo wat die Skrif sê?  Ek verwyt nie ons mense nie; dis óns mense; mý mense, en ek is baie lief vir my mense; die Here weet dit.  Net so lief is ek vir my ander mede-Christene, of hulle nou Boeremense is, of Engelse, of Duitsers, of Zoeloes. En of hulle nou Sewendedag-Adventiste, of Gereformeerdes of Baptiste is – maak nie saak nie. Ek wil soos Paulus aan hulle almal maar net vertel, “Broeders, ek wil baie graag hê dat julle die Goeie Boodskap sal ken; die Evangelie van Jesus Christus waardeur julle inderdaad gered word; die Evangelie waaraan julle reeds vashou … of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek en belangrikste van alles omtrent hierdie Evangelie (wat Paulus aan ons) oorgelewer het – wat (Paulus) net soos (ons UIT DIE SKRIFTE) ontvang het, is naamlik,   

Dat Christus vir ons sondes (1) gesterf het:-

(volgens die Skrifte);

en dat Hy (2) begrawe was:-

(volgens die Skrifte);

en dat Hy (3) OPGEWEK was:-

DIE-DERDE-DAG-VOLGENS-DIE-SKRIFTE.

 

Ek sê, ‘maar net’; maar dit is geen ‘maar net’ sakie hierdie nie! Hierdie, is die Waarheid van die Sabbat ‘volgens die Skrifte’, soos dit in Christus Jesus is, moet

wees, altyd was, en – so help ons asseblief ons Here en ons God – altyd, sal wees! 

 

Om terug te kom na ons punt:- Waar staan dit geskrywe, Jesus het op die Sabbat opgestaan? Ek gaan dit dadelik vir u noem, sodat u dadelik sal weet waaroor dit gaan, alhoewel dit van groter belang is om eers te weet dat dit oor die bladsye van die hele Bybel staan, in groot letters, oor die bladsye van die hele Bybel, GESKRYWE, staan!  Maar nou, hier staan dit, Matteus 28:1, Kry asseblief u Authorised Version, of te wel die King James Version. Nie die New King James Version nie. Maar hou hom maar byderhand, ons gaan hom nog nodig kry. Ons het hom beslis nie nodig om die Evangelie te ken of te verstaan nie – maar ons gaan in elk geval na hom verwys.

 

Matteus 28:1 dan, “In the Sabbath, dawn towards the First Day of the week …” en wat daarop volg, soos goed bekend aan u. Dit is ’n vertaling, moenie vergeet nie; maar dis ’n egte en regte vertaling; ’n ‘Vertaling’ gemaak deur ’n man wat verklaar het, “Mag my deel in Christus van my weggeneem word as ek een woord teen my gewete sou vertaal het.” Daardie man se aardse lewe was van hom weggeneem omdat hy elke woord wat hy van die Bybel vertaal het, heeltemal eerlik, vertaal het. U weet wie hy was. Tyndale. ’n Geleerde man, wat vir geen geleerde of bekwame mens – nie van sy eie tyd nie en nog minder van ons tyd – hoef terug te gestaan het. ’n Gelowige was hierdie man uit een stuk; ’n Hervormer; ’n man van God. Hý, vertaal Mt28:1, “In the Sabbath, as it began to dawn towards the First Day of the week …”.

 

Nou weet u waar staan dit geskrywe dat Jesus op die Sabbat opgestaan het. Die Revised Version – allerweë beskou as korrek-letterlik uit die Grieks (uit die TR naamlik) –, gee Mt28:1 se eerste tydsfrases as volg weer: “Now late on the Sabbath day …”. Daar is verskeie groot geleerdes wat hierdie ‘interpretasie’ steun. Dit is eintlik geen ‘interpretasie’ nie, want dit is letterlik, grammaties en sintakties, in elke opsig liguïsties, korrek.  Daarteenoor

blyk al die nuwer ‘vertalings’, geen vertalings te wees nie, en bewys hulle hulself nie eens as ware ‘interpretasies’ of ‘parafrases’ nie. Ek maak hier die aanklag teen veral die vertalers van ‘Vertalings’ en ‘Versions’ van meer onlangs, soos die Revised Standard, Living Bible, Modern Language, New King James, JB Phillips, NAB, Blye Boodskap – teen hulle almal – dat hulle sluwe sluipmoordaanslae op die teks maak; en dat hulle hul eie belang ten opsigte van die onbybelse tradisie van Sondagheiliging met hulle valshede nagejaag het.

 

Dit sal ons baie help om, voordat ons verder gaan, eers gou na die Grieks in Mt28:1 te kyk, en presies wat dit beteken.  Nou gaan u vir my sê, Ja dis maklik vir jou om ons enigiets te probeer wysmaak; hoe sal ons weet, wat van Grieks verstaan minder as ’n kat van safraan?

 

Dis nie té moeilik nie; laat ons net probeer, ten minste. Vertrou nou maar Tyndale en die Vertalingskommissies van die Authorised en Revised Versions; hulle is geloofbaarder; u sal tog gou agterkom hoeveel. En moet nooit vergeet dat hierdie vroeë Vertalings was, wat gemaak was vóórdat allerhande onwelkome implikasies vir die Sondag en Sondag-opstandingsidee, vir vertalers begin duidelik word het nie – implikasies en komplikasies wat nooit voorheen opgemerk was nie!

 

Die eerste tyds-aanduiding in Mt28:1:

 

Die eerste aanduiding volgens belangrikheid betreffende tyds-orde wat in Mt28:1 bevat word, is die woord ‘Sabbat’, self. Hierdie woord kom voor in ’n Genitief – Vorm van eienskap, soort en besit: Nes in ons Taal, ‘Sabbats’ = ‘van die Sabbat’. ‘Dit is ’n wet-s-bepaling’; die bepaling is wettelik of regtelik. Die tyd is ‘Sabbatstyd’; die gebeurtenis is ’n ‘Sabbatsgebeurtenis’ – dis ’n gebeurtenis van die Sabbatdag. Die tyd of gebeurtenis na aard, is ‘Sabbatstyd’; na aard, is ‘Sabbatsgebeurtenis’. Dit behoort tot die Sabbat; is kenmerkend en uitsluitlik “ván die Sabbat” (soos by voorbeeld die Toonbrode was). So hier in Mt28:1 waar die Skrif van Jesus se opstanding

praat (of dan, dit impliseer en vóórveronderstel). Jesus se opstanding, behoort aan of behoort tot die Sabbat; is die Sabbat se (eie) gebeurtenis. Dit behoort nie aan of tot die Eerste Dag van die week nie.

 

Iets wat ‘na’ of ‘lank na’ (OAV) die Sabbat plaasvind se ‘plek-in-tyd’, is nie meer die Sabbat nie, maar behoort nou aan die dag of tyd waarin en waarop dit dan werklik ‘lank daarna’, sou plaasgevind het, sodat, sou die opstanding van Jesus ‘na’ of ‘lank na’ die Sabbat gewees het, dan moes dit op Sondag gebeur het, en moes die Grieks die Genitief, ‘van / in / op die Eerste Dag’ gehad het, en nie die Genitief, “van / in /op die Sabbat” nie. So staan daar nou in die Akkusatief “teen die Eerste Dag af(sturende)”; maar, “Sabbats” in die Genitief!

 

Dit is dinge wat van belang is hier in Mt28:1. Nie die feit dat ’n Meervoud vir Enkelvoud gebruik word nie. Ek gaan nie nou daarop in nie. Dit is van geen belang nie omdat die Meervoud dikwels vir die Enkelvoud gebruik word – wat hierdie woord ‘Sabbat’ aanbetref, sowel as vele ander woorde. Dit is nou maar hoe Grieks is.

 

Hierdie feit van die Genitief waarin ‘Sabbat’ staan, word maar altyd, wanneer Mt28:1 hedendaags ‘vertaal’ word, sommer net oorheengekyk asof dit gladnie daar is nie.

 

Tweede tyds-aanduiding in Mt28:1:

 

“Laat”:  Ek kry hierdie interessante woord in die Collins / Oxford English Dictionary, ‘opsimath’; en die verduideliking daarvan, “a person who learns late in life, from Greek, ‘opsimathehs’, from ‘opse’ – late + ‘math’ – learn.” Verbeel jou die kêrel begin om sy lesse te leer na sy lewe; of lank na sy lewe; wat sou dit hom gehelp het? Nee die ou begin laat in sy lewe leer, maar gelukkig nog binne sy leeftyd hom gegun en dus nie té laat nie!  Nou hoe gaan ‘opse’ in Mt28:1, ‘ná’, die Sabbat beteken, en nie, “In / Op die Sabbat” nie?

 

 

’n Griekse biskop of iets was hy, Dionisius hier uit die vroeë donkereeue. Verduidelik hy die frase, ‘Opse Sabbátoon’ in Mt28:1, “Die stadige ure van die Sabbat”. Nee, meen ons nie-Grieke van vele eeue later, dit was die korte oggendstond; wat weet die Grieke tog van Grieks! Twee Moderne Griekse Vertalings weet ek van wat albei die tyd van ‘Opse Sabbátoon’ beskryf as “Uitgaande dag die Sabbat …”.

 

Drie keer, word ‘opse’ in die Nuwe Testament gebruik, en drie keer, verwys dit direk na die latere dagtyd, of te wel, ‘namiddag’: ‘na’, die, ‘midde’-dag. Dit kan gewoonweg enigiets, letterlik, ‘na, middag’, wees – so eenvoudig soos dit, enigiets ná die Engelse ‘noon’, ‘12 a.m.’ – ‘ante meridiem’, ‘voor-middag’!

 

Ek gee u net een voorbeeld nog uit die Ou Testament – Ex30:7, “(Die dienaar van Abraham) het die kamele buitekant die stad laat neerkniel, ‘laat’-‘opse’: teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep.” Lees nou die hele verhaal soos dit verder gedurende hierdie selfde namiddag – alles nog op “vandag”, vers 42 – gebeur het, tot vers 54 steeds op “vandag”, waarna die mense eers in die huis ingegaan het om te “oornag”! Toe was die ‘laat van die dag’-‘opse’, uiteindelik verby, en sou die nuwe dag (met sononder) begin het. Dit was ’n lang en vol namiddag, die aanvang waarvan met ‘opse’ beskryf word – met die ‘laat’ relatief tot die hele dag én ligdag, wat sekerlik by vroeë namiddag al begin het om teen sononder op te gehou het. Dit was nie, “Kort voor dagbreek” soos meesal uit Mt28:1 voorgegee word nie!

 

Dit is daarom geregverdig om te sê dat ‘opse’-‘laat’, die ‘laat’ van die hele dagsiklus van die Sabbat in Mt28:1 voorveronderstel. Middag ligdag is driekwart deur die hele dag al, en daarom al ‘opse’-“laat in die dag” – ‘dag’ as ’n nag-en-dag-eenheid veronderstel. Beste woord vir hierdie tyd van die dag, is ‘voldag’ – ‘mid-dag-Sabbat’; ‘Sabbat in volle swang’!

 

Sit die twee beskrywings, ‘Sabbats’, en, ‘opse’-‘laat’, saam, dan maak dit die ‘Sabbatsvolheid’ uit – die Sabbatdag in sy glorie! (sonder sarkasme!):-mid-dag-Sabbat’.  Dis presies wat óók die derde beskrywingswoord, ‘tei epifooskoesei’ in Mt28:1 vir ons verder gaan vertel en letterlik, gaan uitspel! So beskrywe aldrie die eerste tydsaanduidings van Mt28:1 sáám, met uitdruklike presiesheid, die omstandigheid van tyd óp, en van tyd ín, naamlik, die Sabbatdag!

 

Laat ons hierdie derde tydsaanduiding, ‘epifooskoesei’, van nader bekyk. . . .

 

Derde tyds-aanduiding in Mt28:1:

 

Dit is eerstens nodig om te weet en in gedagte te hou dat die eerste tydsaanduiding – dié van “van die Sabbat / die Sabbat se”, Genitief – agtertoe én vorentoe slaan. Na agtertoe, toe dit op ‘opse’ geslaan het, was dit, ‘In die volheid / midde, ván die Sabbat’. Na vorentoe, slaan die Genitief “van die Sabbat / die Sabbat se”, op ‘epifooskoesei’, en is die betekenis nogmaals, ‘ván die Sabbat’. Die týd wat met ‘epifooskoesei’ aangedui word, was ‘die Sabbat sé, tyd’; dit was ’n ‘Sabbatsomstandigheid’.

 

Wat, sou hierdie tyd en hierdie omstandigheid, “van die Sabbat”, gewees het? Ons het klaar genoem, dit was ‘mid-dag-Sabbat’. ‘Epifooskousei’ – letterlik:- ‘In die absolute (epi-) lig / dag / sonskyn (-foos-k) op / in synde (oesei). ‘Epifooskousei’ beteken daarom baie dieselfde as ‘opse’:- voldag’ (klink amper pleonasties).  Mens kan selfs praat van,  ‘In / Met Sabbatsrypheid / volheid’. Want die tyd en die omstandigheid volgens altwee uitdrukkings – ja van aldrie –, was een van letterlik die “In-die-epi-senter-van-die-lig-wees-van-die-Sabbats-mid-der-dags”. ‘Laat middag’ / ‘vroeg namiddag’, is waarna ons kyk, nie wat ons moet soek omdat dit nie daar is nie; daarom, “Laat middag / vroeg

namiddag vóór die Eerste Dag van die week”, want ons kyk

sonder bevooroordeeldheid; soos wat dit ‘geskrywe staan’, rééds, in en “volgens die Skrifte!” 

 

In die KJV se “dawn towards the First Day” kom ons ’n taal-probleempie teë. Miskien moet ek dit die swarigheid van ‘taal-idioom’, noem.  In die KJV lyk dit amper asof die ‘dawn’, aan die Eerste Dag behoort, terwyl dit eintlik, aan die Sabbat behoort!  Dis nogeens nou maar hoe taal werk.

 

Ons het hier kort na die vyftiger jare van die 19-honderds, al begin praat van die ‘vooraand van die een en twintigste eeu’ én die ‘nuwe millennium! (‘Dawn of the twentieth century’.) Maar eintlik was dit nog die twintigste eeu tot en met die einde van die jaar 2000! . . . Net soos die twaalfde uur van die dag nog tot hy opgehou het, aan die ‘vorige’ dag, blý behoort. ‘Dawn’ / ‘vooraand’, is daarom die laaste gedeelte van die dúrende tydsperiode (in hierdie geval die Sabbat) wat die aanstaande tydsperiode (in die geval van Mt28:1 die Eerste Dag van die week), vóórafgaan en wat “daarop-aan”-‘eis’, úítloop. Daarom praat ons van die ‘vooraand’, van die nog aanstaande, eenheid van tyd as nog behorende tot die durende.

 

Vierde tyds-aanduiding in Mt28:1:

 

Vandaar vind u in die teen-pool van “In die Sabbats-vol-lig-dag-synde”, die Akkusatief:- ‘eis mian (hehmeran) sabbatohn’ –“towards the First Day of the week”. Nooit ooit kan dit ‘op’ of ‘in’ of ‘van’ die Eerste Dag wees nie; nie solank as wat grammatiese en sintaktiese reëls van die Griekse taal sal geld nie, want dan, sou daar in hierdie teen-pool nie ’n Akkusatief gewees het nie, maar ’n Genitief of moontlik nog ’n Datief. Maar nie ’n Akkusatief nie; onmoontlik; in enige taal, nie net in Grieks nie, onmoontlik!

 

Dus, in Mt28:1, die laaste kwart, sê maar, van die Sabbatdag, ‘namiddag’, het die “Sabbat se” “lig-syn / lig-

skyn”, die ‘vooraand’ van die Sondag uitgemaak, en was die Sábbatdag, letterlik “aan’t uitloop op die Eerste Dag aan”, letterlik “towards the First Day” = “Sabbats vóór, die Eerste Dag van die week”. Nooit, ‘Op’ of ‘In’ die Eerste Dag van die week nie!

 

Hierdie selfde woord, ‘epifooskoo’-‘in-die-lig-syn/wees’, word net soos in Mt28:1, in Lk23:54 gebruik, waar dit die laaste helfte van die ligdag – of naderby, die begin van die laaste kwart van die ligdag – aantoon, toe Josef die graf finaal toegemaak het en huistoe gegaan het, en die vroue toe ook huistoe gegaan het om hulle speserye te gaan regkry – alles vóórdat die Sabbat sou aanbreek. Baie dieselfde as ‘opse’ se betekenis, weereens!

 

Het u al ooit gehoor dat iemand vir u vertel dat Josef Jesus vroeg op die Sabbatdag begrawe het?  Nou hoekom sal hierdie selfde mense te vertelle hê dat Jesus vroeg op die Eerste Dag opgestaan het – siende een en dieselfde

woord in albei gevalle gebruik word?

 

Ten opsigte van ‘laat’-‘opse’, sowel as ‘epifooskoesei’-‘in-die-lig-synde’, is dit ’n geval van ‘die-Sabbat-s’n’:-  

“Die ‘opse’-volheid / laat, ván die Sabbat”;

In die Sabbat se ‘epifooskousei’-volle ligdag-syn.” (‘In’ / ‘Met’ – moenie die Datief vergeet nie!) 

 

Bogenoemde maak dan die een kant van die twee teenstellende kante van die tydsaanduiding in Mt28:1 as geheel, uit.  Want ons kry in Mt28:1 ook hierdie tweede stel van tydsaanduidings, “op die aanstaande Eerste Dag van die week aan.” “Op … aan”, of te wel, “na … toe”.

 

Jesus word uit die dood opgewek, “in-die-epi-senter-van-die-lig-wees-van-die-Sabbat-vol-dag,  op die aanstaande Eerste Dag van die week aan. Of, net om verwarring te voorkom, “In-die-epi-senter-van-die-lig-wees-van-die-Sabbat-vol-dag,  téén / vóór die Eerste Dag van die week. Soos die KJV dit goed

 

genoeg gedink het, “Towards the First Day”. Nié soos die hedendaagse beterweters en beunhase goeddunk, “On the First Day”, nie! 

 

Ek wys u net die letterlike presiesheid van die Griekse woorde wat so ligtelik – o nee! – wat so slinks

en berekend en met dodelike erns en effek – na willekeur

geïnterpreteer en ge-eksegetiseer en ge-hermeneutiseer word met net een doel voor oë, om die Skrifte só te manipuleer dat Sondag die dag waarop Christus uit die dood uit opgestaan het, gemáák, sál, word. Want alleen as Sondag die Opstandingsdag van Christus was, sou daarvan die Aanbiddingsdag van die Volk van God, gemaak kon word.

 

Wat sou verwag kon word?

 

Ons Christene vra onsself nooit die vraag af, Alleen as Sondag die Opstandingsdag van Christus, “volgens die Skrifte”, kón gewees het en móés gewees het, alleen dán tog, kón dit en móés dit en sóú dit, Aanbiddingsdag van die Volk van God gewees het? Nee dit, vra ons onsself nie af nie; neem dit sommer net aan; maak dit sumier wet; en nogal Wet van die Nuwe-Testament, en ten koste van die Ou-Testament en ewige Gebooie van God – sonder om te gaan kyk het na die Skrifte in hul geheel! Want watter verwagtinge skep die Skrifte met betrekking tot die Profetiese aard en waarde van die Sabbat – of van die Eerste Dag? “Volgens die Skrifte” nou, watter Dag sou, en hét uiteindelik, “vir die Volk van God, bly geld” as Rusdag van God ons Skepper én Dag van die Here ons Verlosser? – dié dag waar-in Christus ons Here “in sy rus in-gegaan het”, en dag waar-opHy aan hulle (die Volk van God), rus verskaf hét”? Watter dag doen hom uit die Skrifte aan ons voor wanneer ons aan hierdie dinge dink?

 

Geen direkte letterlike woorde of konstateringe agterna, is van soveel gesaghebbendheid as God se Vooraf-Woord nie. “Want aldus hét God gespreek …”.  Want God het gespréék – en – dit was!” Want Christus het “in” en “op” die Sabbat, “In Sabbatstyd”, uit die dood uit opgestaan, omdat, Hy – “die Christus van God” en van sy Woord, “VOLGENS DIE SKRIFTEsóú opstaan en móés opstaan – omdat Hy, volgens die bepaling van God se Wet en van sy ewige Voorbeskikking, “op die Sabbatdag”, opgestaan hét!

 

Op watter, “derde dag”?

 

Die derde dag volgens die Skrifte” – 1Kor15:4, Nuwe-Testamentiese Woord!   Letterlik, net maar, ‘die derde dag’ en geen ander dag nie?  Nou watter dag dan, was “die derde dag”? Tog nie die Sabbat nie? “Want die Séwende Dag is die Sabbatdag van die Here jou God”?  Tog nie die derde dag van die week nie? Dit verstaan ons almal; Jesus het immers nie op Dinsdag opgestaan nie!  Ook nie die derde dag van die maand nie, want die dag van die maand waarop Jesus opgestaan het, weet ons, was, ‘volgens die Skrifte’, die sestiende dag van die maand Nisan – die dag waarop die Eerste Gerf Beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg was! 

 

Dit dan, as die Here wil, sal die volgende onderwerp vir ons wees – om te gaan uitvind, wat, met ‘die derde dag’, bedoel word.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gerhard Ebersöhn

Suite 324

Pvt Bag 43

Sunninghill 2157

biblestudents@imaginet.co.za

http://www.biblestudents.co.za

 

6 Februarie 2008