Die Sewende Dag is die Sabbat

 

“Terwyl Josua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk, Daar staan ’n Man teenoor hom met ontblote swaard in die hand. Josua het na hom gegaan en hom gevra: Hoort U by ons of by ons vyande? En Hy antwoord: Nee; maar Ek Is die Leërowerste van Jawe die HERE. Ek het nou gekom!” Josua 5:13-14a

 

Toe ons na die dae van Genesis 1 gaan kyk het, het ons so op ’n manier ooreengekom dat ons die ‘opskrifte’ van elke dag se skeppingsgeskiedenis – ‘Eerste Dag’, ‘Tweede Dag’ ensovoorts, as name van elke dag, sou bejeën. Ons het toe ook gesien dit werk perfek uit: die eerste dag was – by name – “Die Eerste Dag”, en so aan, tot en met “Die Sesde Dag”. So het ons dan opgehou met ons bespreking, net voordat ons sou gelees het, “En God het op die Sewende Dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die Sewende Dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. Daarom het God die Sewende Dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. En dit was dan die geskiedenis van hemel en aarde toe hulle geskape was.” Gn2:2-4a  Ons vind die Sewende Dag driemaal by name vermeld, “Sewende Dag”. Die Telwoord was die Naamwoord van elke dag van sewe, of te wel, van die week.

 

So was die dae aan die skrywer van Genesis bekend as, Tweede Dag, Vierde Dag, of watter dag van die sewe skeppingsdae ook. Teen die tyd in die geskiedenis dat Genesis op skrif gestel was, was dit die dae van die week se name. As iemand sou sê, Ek gaan op die Vyfde Dag vir Jan kuier, het hy presies maar net gesê wat vandag sal wees, Ek gaan Donderdag vir Jan kuier. Tensy duidelik uit die verband uit dat dae getel word sonder dat die dae van die week bedoel word, is dit in die hele Ou-Testament duidelik dat die dae van die week of skeppingsorde bedoel, en by die naam, genoem word. Die sewe dae skeppingssiklus was die enigste uitkenningsordening van dae wat daar was; Israel minstens, het van geen ander geweet nie. Daarom, toe Genesis geskrywe was, vanuit die staanspoor, was die Genesis-name, die dag-name.

 

Dit is baie duidelik so die geval te gewees het as die Vierde van die Tien Gebooie lees, “Die ‘Sewende Dag’ is die ‘Sabbat’ van die HERE jou God, want … op die ‘Sewende Dag’ het Hy gerus … daarom het die HERE die ‘Sabbatdag’ geseën”. Hier ontvang Die Sewende Dag as’t ware sy van (sy ‘tweede naam’), ‘Sabbat’. Iemand kon dus van ‘Die Sabbat’ praat, en almal sou weet hy praat van ‘Die Sewende Dag’, en andersom natuurlik.

 

Nou mag dit alles na onnodighede klink; maar hou konsekwent by hierdie ongeskrewe reël, en u sal gou gou agterkom watter implikasies dit inhou vir mens se verstaan van die geskiedenis van die Sabbat in die Ou Testament. Vandag wil ons graag na een so ’n geval kyk. 

 

Lees ons nou weer Josua 5:13-14a, binne konteks, hoofstuk 5 van vers 10 af, saam met hoofstuk 6, dan merk ons op:

 

10 Terwyl Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die Pasga laat in die dag op die veertiende van die (Eerste Maand, Nisan) – daar in die vlaktes van Jerigo – geslag. 11 En hulle het (in die nag na sononder) die dag ná die Pasga, ongesuurde brode van die opbrengs van die land (Kanaän) geëet, ook gebraaide koring, nog dieselfde (eerste) dag (van Ongesuurde-Brode-Fees, Nisan 15). 12 En (pas) die dag nádat hulle van die opbrengs van die land (begin) eet het (op Nisan 15, eerste dag van Ongesuurde Brode)—(pas) die dag daarná—(op Nisan 16, wanneer hulle die Eerste Gerf voor die aangesig van die HERE beweeg het) … en Terwyl Josua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk, Daar staan ’n Man teenoor hom met ontblote swaard in die hand. Josua het na hom gegaan en hom gevra: Hoort U by ons of by ons vyande? En Hy antwoord: Nee; maar Ek Is die Leërowerste van Jawe die HERE. Ek het nou gekom!” “Nou”, was Eerste-Gerf-Voor-die-Aangesig-van-die-HERE-Beweeg-Dag, Nisan 16. “En kyk, Daar staan ’n Man teenoor hom met ontblote swaard in die hand.” 

 

“Toe sê die Leërowerste van die Here vir Josua, Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig.” (Die woord ‘makom’ hier gebruik vir ‘plek’, word in die KJV 370 keer gewoonweg met ‘plek’ vertaal, maar tog wel ’n enkele maal met ‘space’ en ook met ‘room’, om uitdrukking te gee aan die meer-dimensionaliteit van die woord.)

 

Het Josua op ’n plek – op grond – gestaan wat ooit deur God as ‘heilig’ afgesonder was? Nie waarvan ons weet nie. Nou waarom dan, ‘heilige plek’? Dit sal aanstonds blyk, maar onthou maar intussen dat ons partykeer praat en sê, ‘Ons staan vandag op die plek waar geskiedenis gemaak word’, en bedoel plek of ruimte in terme van tyd: ‘vandag’, is ‘die plek’!  

 

“Toe het die HERE (Jawe, dieselfde ‘Leërowerste van die Here’) vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jerigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy elke dag vir ses dae na mekaar doen … maar die Sewende Dag moet julle die stad sewe maal omtrek.”

 

Josua gee onmiddellik gehoor, en die Eerste Dag se aanslag word sonder onderbreking van 6:6 af beskrywe. Maar dis eers van vers 12 af dat verduidelik word hoedat elke dag uur vir uur verloop het. “Josua het die môre vroeg klaargemaak, en die priesters het die ark gedra … So het hulle dan op die Tweede Dag die stad (ook) eenkeer omgetrek; daarna het hulle in die laer teruggekom. So het hulle vir ses dae aanmekaar gedoen.” Dit gee tog onvergisbaar die roetiene van ook die Eerste Dag. Die Eerste Dag was dus die dag volgende op die dag waarop Josua met die Leërowerste van die Here gepraat het. En hieruit moet ons aflei dat die dag waarop Josua met die Leërowerste van die Here gepraat het, die Sewende Dag was! G’n wonder nie dat die HERE vir Josua gesê het om sy skoene uit te trek omdat die oomblik, heilig was! Die dag, Josua, waarop die HERE met jou spreek, is heilige plek in tyd! Die heiligheid van die plek is te danke aan die teenwoordigheid van God; dit is wat die dag heilig; nie ’n dalk vergete of onvermelde seremonie of gebeurtenis nie! Soos ons met die HERE God van die Sabbatdag gekonfronteer word, word ons in die uur van beslissing met die Here se heilige Dag van Aanbidding gekonfronteer!

 

Slaan die oë op, “En kyk! Daar staan ’n Man met ontblote swaard in die hand. …En daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoen Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid … en sy Naam is, die Woord van God … en uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan … Koning van die konings en HERE van die here”. (Op19:11-16) 

 

Ons kan ons nie met die HERE vergis, Wie Hy is nie; ons kan ons ook nie omtrent die heiligheid van die plek vergis nie, want “Dit is die Dag wat die HERE gemaak het”, “heilige dag” vir Oorwinning afgesonder, waarop God in ruimte én tyd, “voltooi het alles wat Hy gemaak het”; waarop God in ruimte én tyd deur oorwinning “sy rus ingegaan hét”. Want – volgens die ewige beskikking van God – het “al die krygsmanne” van Israel, wat man, vrou en kind en priester en musikant ingesluit het – “op die Sewende Dag hulle klaargemaak” en het die HERE soos Hy belowe het, op die Sabbatdag die koning van Jerigo en al sy dapper helde (2), aan sy volk oorgegee (16).   

 

Hierin word duidelik daardie tweede ding waarop ek heeltyd nog toegespeel het, naamlik dat Sewende Dag nie net naam vir Sabbat is nie, maar naam vir die dag van Goddelike segetog, uiteindelik – soos altyd nog – in en deur Christus Jesus, en in en deur Hom in opstanding uit die dood en dode, want, let op: Hierdie Sabbatdag van heilige konfrontasie tussen God en Josua was Nisan 16, Dag waarop die Eerste Gerf voor die aangesig van die HERE beweeg moes word, en in Christus Jesus vervuld, beweeg wás, in, en deur, opstanding uit die dood en dode.

“Ek het nou gekom”; God is by ons; Hy het na ons toe neergedaal om by ons uit te kom en by ons te wees: dit is die plek en Dag van Ontmoeting: “Toe val Josua op sy aangesig op die grond en buig hom neer en bid Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe antwoord die Leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die dag waarin jy staan, is heilig. En Josua het gehoorsaam.”

 

 

Ongelukkig is dit nou so dat sommige mense beswaar het daarteen dat Israel vir Jerigo op die Sabbat sou ingeneem het. Vir watter rede kan g’n mens uitmaak nie. Dit sou dan ‘sonde’ gewees het om vir sewe keer om die stad te geloop het op die Sabbatdag – asof eenmaal se omloop nie te veel van ’n lopery sou gewees het om ‘sonde’ te kan wees nie!  Dis soos om te sê bietjie steel is nie steel nie – soos hulle dalk sal wil aflei uit Israel se vergryp aan die bangoed ná die val van Jerigo. Die KJV stel dit mos dat die stropers ‘al te veel van die bangoed’ gevat het;  asof – vir die perverse brein – dit nou nie juis sou saak gemaak het as hulle net minder gevat het nie. Ek steel nie, ek vat net, sê ons mos. Nou wat’s die verskil, om eenmaal om te geloop het op die Sabbat – want op die Sabbat móés hulle omgeloop het – of sewe maal? As sewemaal ‘sonde’ was, dan was eenmaal óók sonde!  Sulke argumente is nie belaglik nie; hulle is ernstig lasterlik. En mense dink nie eers daaraan dat hulle hulleself aan sulke vieslike sondes verskuldig terwyl hulle ewe skynheilig dink hulle verdedig net die heiligheid en onskendbaarheid van die Sabbatdag van die Here nie! Weg daarmee! Dit, is wat Jesus bedoel het met ‘die oorleweringe van mense’ vóór God se Gebod te stel; dit, is skynheiligheid. Om die Sabbatsgebod te gehoorsaam, is om God te gehoorsaam, sodat, as Hý vir jou sê: Jy mag nie werk nie! Dan mág jy nie werk nie; en as Hý vir jou sê: Jy móét op die Sabbat werk, dan wérk jy op die Sabbatdag! Nie as jy vir jouself vertel dat jy maar op die Sabbat mag werk nie, want dit is nog steeds net die gebooie van mense – van jouself – bó die Gebod van God te stel. Moenie jou verbeel jy is God nie!

 

Maar verskyn die HERE Jawe wie se Sabbatdag dit is, aan Josua, en beveel Hý hom: “Op die Sewende Dag moet julle sewemaal omtrek!” God verwag van julle wat glo, die uitnemende grootheid van julle krag na die uiterste werking van julle sterkte wat julle moet werk wanneer julle Jerigo op die Sewende Dag van Sabbat, sal wil inneem! Dán, is dit opperste ongehoorsaamheid om die Sabbat se heiligheid voor te hou vir verskoning vir jou ongehoorsame vreesagtigheid! Dis hoekom ek sê hierdie ‘argumente’ is nie belaglik nie, dis lasterlik! En staan dit soos ’n paal bo water “die Sewende Dag” in Josua beteken net maar presies wat “die Sewende Dag” in Exodus 20:8-11 en Genesis 2:2-3 beteken – die enigste betekenis in die Ou-Testament en aan die skrywers van die Ou-Tetament daarvoor bekend – naamlik, “Die Sewende Dag die Sabbat van die Here jou God”.

 

Laat hom wat dit kan vat, dit vat!

 

 

 

 

Gerhard Ebersöhn

Suite 324

Privaatsak 43

Sunninghill 5127

biblestudents@imaginet.co.za

http://www.biblestudents.co.za